Sondagaand, die maan hang soos 'n stuk kaas in die lug, dis koel en stil. Seer sekerlik het almal hul sakkies gepak, klere gestryk en met skoongewaste hare in die bed geklim, op wag, vir Maandag. Maandag lĂȘ altyd soos 'n berg voor my. Ek kyk hom lank aan en wens hom weg, maar hy bly daar en loodvoet pak ek hom aan wanneer die tyd, te gou kom. Dit is die Sondagaand wat ons langer wil vashou, wil strek tot daar waar ons nie meer kan nie. Dit is die stilte in die Sondag wat ons koester want dit is die Sondag wat ons met onsself verkeer, kop skoonmaak en uitgooi wat nie behoort. Maar die teenoorgestelde is ook waar, dit is op die Sondagaand wanneer ons gekonfronteer word met die nie-lekker van die lewe, die nie-lekker wat baie maal op die Maandagoggend hervat moet word. Ons klim met ons liggame in daardie Maandagoggend en ry hom al stampend en stotend totdat vyfuur kom. En as dit oor is haal ons weer vrylik asem en wonder waaroor al die bohaai was. Maar Sondagaand kom weer en ons klim daardie trein al sukkelend die Maandagoggend en voltooi die reis.
Sondagaand, lieflike aand... hier wil ek stop.
No comments:
Post a Comment